Advertisement
Subscribe
Register | Log in
Advertisement

Karavaanpark Kronieke: Wasdag en Langstaners

7021
VIEWS

Met ‘n koppie koffie in die een hand besluit Elsa net daar om gou-gou die wasgoed by die gesamentlike wasplek in die kamp te gaan was. Die opgaar van vuil klere is ʼn nare affêre. Haar regterhand se pinkie het verlede week gekeer dat sy die regte ding doen. Sy het hard kennis met die rotse gemaak toe die wind haar van die rotse afgewaai het, maar dis ʼn storie vir ʼn ander dag. Nou is haar pinkie weer piekfyn!

Dié gou-gou word toe ʼn hele twee ure! Nou, mense wat al kampeer het tussen langstaners, sal weet hoe dit werk. Horlosies is nie deel van ʼn mens se uitrusting nie. Alles wat gedoen word, word ʼn gekuier. Of mense nou kamp opslaan, gaan stort, skottelgoed opwas of hulle klere was, leef hulle elke minuut volgens hulle eie bepalings en voorwaardes.

Elsa se eerste indruk van die prentjie wat voor haar ontvou toe sy om die hoek van die wasarea gekom het was om nie haastig te lyk nie. Hier is sy die inkommer. Soos dit haar geluk moes wees, is al drie wastrôe beset. Sy sit haar wasgoedsak, seeppoeier en emmer op die sementblad neer. Sy kruis haar arms en beloer elke wastrog en eienaar vanaf ʼn veilige afstand. Die eerste trog is so vol skuim dat dit moeilik is om te skat hoeveel klere daaronder weggesteek lê. In haar oorgrote rooi fluweel kleed, rooi pantoffels en hare netjies in krullers, staan ʼn ander vrou stewig. Alhoewel sy ʼn groot poging aanwend om besig te lyk, gesels sy meer as wat haar hande die werk doen. Kort-kort waai ʼn bondel seepskuim die lug in soos sy die nuutste nuus aankondig. Die ander twee maak so nou en dan ‘o’ en ‘a’ geluide maar Elsa kan sien hulle luister nie na een woord nie.

Die tweede vrou is kort van gestalte en lekker geset. Sy is nou vir jou ʼn ware boere tannie. Dit lyk asof sy besluit het dat die dae van haastig wees op die plaas nou finaal verby is. Niemand gaan weer vir haar voorsê hoe vinnig sy moet werk nie. Drie klein blou kant gordyntjies word met groot liefde stadig gevryf, bekyk en verder gevryf. Sy kyk nie op nie, sy werk stadig aan met algehele toewyding.

Die derde persoon is ʼn heel ander prentjie. Hy is ʼn kort, stewige bleskop oom met ʼn lekker boepie. Elsa skat hom so 70 jaar oud. Sy sien net water en seep spat soos hy op spoed is met sy bondel. Elke hemp wat klaar uitgespoel is draf hy na die wasgoedlyn toe. Dan draf hy weer terug en begin met die volgende hemp. ʼn Ware inspirasie vir elkeen wat nie daarvan hou om self die wasgoed aan te durf nie. So tussen die vryf en uitspoel kyk hy op na Elsa se kant toe. “My kind, ek is amper klaar, dan kry jy my trog. Ek los sommer vir jou my seep water. Water is skaars, jy weet,” sê hy. Daar kom geen woord by Elsa se mond uit nie. Maar wat sê ʼn mens vir iemand wat so opreg sy vuil waswater vir jou aanbied. Na ʼn rukkie kom daar darem ʼn sagte “dankie” oor haar lippe. En die horlosie stap aan.

Die vrou van die eerste trog draai skielik om na Elsa se kant toe. Sy kyk gelukkig verby haar na die wasgoedlyne se kant toe. Sy skrik toe want daardie is ʼn baie kwaai kyk. “Haai Bertus, jy mag nie daardie wasgoedlyn gebruik nie, jy weet mos by hierdie tyd van die dag is daardie wasgoedlyn myne. Soek vir jou ʼn ander een,” sê sy. Hier staan Elsa en dink die agt wasgoedlyne is vir almal. Dit is toe nie so eenvoudig nie! Die vrou van trog nommer een draai toe terug, gee ʼn verergde tongklap en gaan weer voort met haar wasgoed en om verder stories te vertel. “Het julle gehoor daardie man met die bruin Land Cruiser het gister by die toegangshek heel skeef ingery. Sy karavaan het ʼn lelike diep sny aan die eenkant gekry. Hy het natuurlik nie gekyk waar hy ry nie. Ou Dawie sê hy was daar en het gesien dat die man was op sy selfoon. Boonop dit het hy dalk nog ook te veel voggies ingehad,” vertel sy.

Hier hoor ʼn mens al die skindernuus van die kamp. Alhoewel, niemand luister nie regtig nie. Die persoon van trog nommer twee kom, sonder om links of regs te kyk, stadig verby Elsa gestap met een klein kant gordyntjie. Sy hang dit met groot deernis en liefde oor die wasgoedlyn en stap stadig weer terug, diep ingedagte. Elsa wonder waar is die vrou op hierdie oomblik in haar gedagtes.

Intussen spoed die persoon van trog nommer drie voort met hemde en kortbroeke. Elsa sien geen onderbroeke nie! Elsa begin dink dit is ‘n item wat oorbodig geraak het na aftrede. “Dis reg so, vereenvoudig jou leefstyl, dis ʼn slim oom hierdie,” sê sy vir haarself.

Die vrou van trog nommer een kom met ʼn yslike emmer vol wasgoed en pyl af na ‘haar’ wasgoedlyn toe. Elsa wou nog aanbied om te help maar toe besef sy dat ʼn mens nie met die eienaar van hierdie rooi fluweel kleed lol nie. Die kwaai kyke na elkeen van hulle wat daar staan maak dat Elsa haar mond wat halfpad oop was weer vinnig toemaak.

In die verste hoek by die wasgoedlyne is ʼn man besig om die wasgoed op te hang. Hy bekyk elke kledingstuk en maak seker dat die meeste kreukels uitgeskud is voor hy dit netjies vassteek met die pennetjies. Kort-kort kyk hy onder deur sy bruin pet na die linkerkantste ingang van die was area. Dit is net ʼn kwaai vrou wat ʼn man so senuweeagtig kan laat lyk, het Elsa by haarself gedink.

Die persoon van trog nommer drie is uiteindelik klaar. Elsa neem ferm haar plek in. Hier moet jy vasberade wees anders trek jy aan die kortste ent. Die seepwater wat met so ʼn goeie hart vir haar gelos is, laat sy stilweg uitloop. Terwyl sy besig raak met haar eie wasgoed, kan sy nie help om te luister en in te neem wat rondom haar aan die gebeur is nie.

ʼn Dame in ʼn wit rokkie, wit hakskoene en ʼn wit sonhoed kom heup swaaiend om die hoek. Die uitdrukking op haar gesig onder daardie breë wit sonhoed kan ʼn mens nie miskyk nie. Dit spreek boekdele, geen woorde is nodig nie. Al heup swaaiend pyl sy reguit af op die wasgoedlyn waar die man ʼn rukkie gelede die wasgoed met soveel sorg opgehang het. Elsa kan nie glo wat sy sien nie. Sy haal sowaar elke kledingstuk af, draai dit om en hang dit weer oor die draad. “As ek haar man was, help ek haar nooit weer nie,” sê Elsa in haar binneste.

Elsa vorder nie so vinnig soos sy wou met haar eie bondel nie. Dit is omrede sy haar vergaap aan al die aktiwiteite wat rondom haar afspeel. Sommige kom so stil soos ʼn muis kyk of hulle wasgoed al droog is, ander gesels en lag kliphard. Grappies word vertel so tussen die werk deur. Een van die kamp se werknemers kom met nuwe wasgoedlyne wat sy wil span. Drie vrouens pyl op haar af. “Hoekom wil jy nou die drade kom span? Kan jy nie sien ons is besig om die wasgoed op te hang nie.” Hoe meer die dame verduidelik dit neem net drie minute, hoe heftiger raak die ander se stemme. Sy blaas die aftog en stap weg.

Met Elsa se wasgoed skoon en veilig terug in die emmer, loop sy terug karavaan toe. Haar gedagtes is hard besig om te probeer verstaan hoekom die menslike spesie nie kan en wil saamwerk nie. Ruimte vir aanpasbaarheid en geduld bestaan nie. Elsa kom toe uiteindelik tot die gevolgtrekking dat dit miskien is omdat die meeste mense deur die jare moes veg vir ʼn plekkie in die son.

Ons wil graag weet wat ons getroue lesers oor wasgoed doen tussen langstaners in ʼn karavaanpark dink. Almal is meer as welkom om by die gesprek aan te sluit en julle gedagtes te deel. Ons waardeur verskillende perspektiewe. Elkeen se insigte, vrae en persoonlike ervarings kan vele meer tot hierdie artikel bydra. So moet asseblief nie jou opinie vir jouself hou nie, ons is ene ore!

CaravanSA

Post your comment

Advertisement
Advertisement