Die verhaal gaan oor twee pensionarisse wat vir die eerste keer met hulle nuwe karavaan gaan kamp het. Wat daarop gevolg het was die uitdaging om die nuwe karavaan se tent op te slaan. Elsa Meintjes vertel ons meer oor hulle ondervinding. Hulle sê dit is onvanpas om vir oumense te lag – maar ons dink regtig dat dié storie voorwaar ʼn uitsondering is.
Daar word gesê dat die tyd vandat jy jou karavaan parkeer tot jy by jou eerste whiskey uitkom, dit so ʼn uur vat om jou tent op te slaan. “Daardie verhaal is beslis nie wat op hierdie oomblik besig is om in my gemoed voor my af te speel nie,” sê Elsa.
Met haar gunsteling blou sonhoed aan, YouTube se demonstrasie nog vars in haar gedagte wat sy gisteraand mooi bestudeer het, is sy gereed om dié taak aan te pak. Dis net ʼn paar pale wat mens inhaak en ʼn seil wat jy oortrek. Hoe moeilik kan dit nou eintlik wees, het sy gedink. “Met Red Bull se energiedrankie en met groot opgewondenheid loop ek die nuwe karavaan wat ons drie weke gelede gekoop het van die sykant af storm,” sê sy. Met haar nuwe blou en pienk Sketchers-skoene slaan sy die ankers aan. “Ek word begroet met ʼn magdom van toue, hake, seile, hamer en pale van alle grotes,” sê Elsa. Haar man, met sy hande op sy heupe, konsentreer in diepte op wat pas hier voor hom uitgepak is. “Ek wonder of ek nie dalk maar ʼn klein whiskey met baie ys vir hom moet bring nie. Net sodat die breinselle helder bly en ook om die res van die liggaam kalm te hou. Gelukkig het ek vinnig daarteen besluit,” erken sy. “Nee, hy is ʼn ingenieur en weet presies wat om te doen, daar is geen probleem nie,” verduidelik sy.
Met ʼn vinnige kyk in alle rigtings, sien Elsa dat daar nie mense is wat hierdie tyd van die middag buite sit nie. Sy het besluit dat die mense seker besig was om te rus. “Hoe sê hulle altyd, magies vol, ogies toe,” voeg sy by. “Dankie tog want hier kom groot chaos! Ek kyk op my horlosie wat met die wyser op 14:00 staan. Met vroulike wysheid probeer ek hierdie legkaart stukkies voor my uitsorteer – wel dit was my eerste fout,” bieg sy.
“My liewe vrou, los dit asseblief uit, jy krap net alles deurmekaar. Ek weet wat ek doen,” sê haar man. Nou ja, dis maar reg so dink sy innig. “Tien minute later kan ek dit nie meer hou nie, nog nie een paal is in posisie nie. Ek probeer weer saggies en liefdevol my mening gee,” sê sy. Die YouTube video van hoe en waar jy wat doen is skielik baie ver uit hulle gedagtes uit. “Hierdie is die ondenkbare werklikheid – dit is nou nie meer ‘my liewe vrou’ nie,” voeg Elsa by.
“Vrou, ek het gesê los die goed uit, jy maak my deurmekaar. Staan eenkant, ek sal vir jou sê wanneer jy kan help,” het haar man gefrustreerd gesê. “Ek sê niks nie, maar hier binne in my rol die woorde,” sê sy. Haar man begin skielik met nuwe entoesiasme ʼn paar pale en hake bymekaar maak en peil af op die mooi nuwe karavaan met die blou hoeke wat soos arms dit vashou. Met nuwe krag druk hy die eerste paal in die gat bo in die middel van die tent-dak in.
“Hou die dwarspaal nou styf vas sodat ek die middelste regop paal kan indruk,” beveel hy. “Ek probeer my lyf strek totdat dit voel asof my werwelkolom uitmekaar getrek word. Op die punte van my toonnaels probeer ek vasklou aan die paal, maar ek is te kort,” erken sy. Gelukkig kom haar man net betyds tot haar redding, en neem die dwarspaal uit haar hande uit en druk die twee inmekaar in. Die paal staan nou vas. Volgende is dit die dwarspaal. Hulle kyk tevrede na die poging en skep toe moed.
“Hou nou die regop kantpaal vas,” sê haar man. Sonder ʼn woord, anker sy daardie paal voor haar vas. “Niks sal naby hierdie paal vandag kom nie! Hy sit!” Dink sy hardop. Nou vir nog ʼn dwarspaal. Hierdie is moeiliker want vir die een of ander rede wil die pale net nie inpas nie. Voor jy die woord ‘karavaan’ kon sê, tuimel alles grond toe!
Sweet loop sulke straaltjies by haar man se gesig af en sy kry hom bitter jammer. ʼn Waterbottel is al vertroosting wat sy nou aan kan dink, “woorde is nie nou juis ʼn opsie nie,” dink sy byhaarself. Sy self vaar ook glad nie beter nie. Die warm gloede sal nou wragtig vandag sy allerbeste gee en ons almal weet dat om ʼn vrou te wees is glad nie vir ‘sissies’ nie.
Hulle begin weer van voor af. Hierdie keer vorder hulle ʼn bietjie verder. Dit is nou twee ure later. Dis warm, daar is nie tyd vir asem skep nie, en die waterbottel is ook al warm van in die son lê. Daar is net nie tyd om die bottel elke keer in die koelte te gaan bêre nie. “As ek hierdie storie so kyk, slaap ons vannag met ʼn tent wat soos ʼn kombers oor die karavaan hang,” kommentaar Meintjies.
Hulle worstel voort. Die geduld raak al hoe minder terwyl die sweet straaltjies hulle gesigte afloop. “Net môre adverteer ek hiérdie karavaan op Junkmail!” skel sy. Sommige mede-kampeerders het intussen wakker geword, een is selfs besig om sy braaivure gereed te kry. Sodra die twee regterkantse pale en die middelpaal staan en hulle druk die linkerkantste twee sypale in, glip die regterkantse paal weer uit. Tog, uiteindelik staan die raamwerk. Hulle juig met die gedagte van ʼn yskoue bier wat in die yskas wag. Nou is dit net vir die seil, maar hoe ookal hulle trek, bly dit skeef. Elsa voel hoe sy self skeefgetrek word, sy voel haar nek werwels sit nou al op ʼn heel ander plek van al die trek en rek. Van kommunikasie tussen hulle is daar by die tyd geen sprake van nie. Hulle kyk nie eens meer in mekaar se rigting nie – daar is net doodse stilte.
Intussen het van hulle mede-kampeerders hulle moedige pogings aanskou maar ook die penarie waarin hulle beland het. “Goeiemiddag, kan ons help?” vra twee ‘engele’ ewe bedagsaam. Hulle kom doelgerig op hulle afgepeil. Die vraag was eintlik ʼn bysaak want hulle het net oorgevat. Na tien minute, tussen die omruil van pale en hake, ontvou hulle karavaan tent soos ʼn skoenlapper wat uit sy papie breek. Sykante en voorkant van die tent word styf en die pale vind hulle regte staanplekke.
“Ek dink hulle kon die pyn en lyding net nie meer aanskou nie. Hulle wou dalk ʼn egskeiding voorkom!” lag Elsa later. Hulle staan toe daar, heeltemal oorbodig op hulle eie staanplek. Hulle selfvertroue was daarmee heen, tog was hulle uiters dankbaar. “Is julle lus vir ʼn yskoue bier? Ons wil graag dankie sê” vra Elsa se man. “Nee dankie, ons is besig om op te pak. Ons vertrek môreoggend op ons volgende avontuur,” groet hulle. “Ons het gestaan en gekyk hoe hulle wegstap. Ek kon sweer ek het ʼn helder lig bokant hulle koppe gesien,” grap Elsa ten slotte.
Almal is meer as welkom om by die gesprek aan te sluit en julle gedagtes te deel. Ons glo in die krag van uitlopende perspektiewe. Elkeen se insigte, vrae en persoonlike ervarings kan diepte en konteks tot hierdie wonderlike onderwerp bydra – so moet asseblief dit nie vir jouself hou nie! Almal is meer as welkom om hieronder kommentaar te lewer. Deel jou kundigheid en maak daardeur kontak met mede-lesers. Maak hierdie artikel selfs meer waardevol deur jou unieke stem by te dra – ons is ene ore!
Join the Conversation
We'd love to hear your thoughts! Share your insights, questions, and experiences with us and join the conversation. Your feedback helps us create better content and foster a community of passionate caravanners. Post your comment below and be part of the discussion!