Subscribe
Register | Log in
Stormsriviermond

Ons droom van ‘n ryhuis-avontuur is bewaarheid

2661
VIEWS

 

Vir jare lank het ons gedroom oor ‘n avontuur in ‘n ryhuis, maar dit nog nooit werklikheid gemaak nie… tot hierdie jaar!

Die dag voor ons vertrek op ons reis gaan haal ons die ryhuis (wat ons huur) by Maui in Kaapstad.
Met eerste oogopslag lyk dit vir ons baie groot, maar dis te verstane as jy in ag neem wat jy alles kry: ‘n outomatiese motor ten volle toegerus met alle beddegoed, breekware, messeware, ‘n gasstoof, yskas, opwasbak en hope pakplek vir al jou kruideniersware en klere.
Daar is ook ‘n stort, toilet en klein wasbakkie, lugreling voor in die kajuit asook in die leefarea, en Maui gee vir jou ook vier kampstoele en tafeltjie vir buite.

 

ATKV HARTENBOS

Vrydagoggend 6vm vertrek ons na Hartenbos, waar ek bespreek het by die ATKV-oord.
Ons staanplek (wat slegs R231 kos), is nommer D2. Ongelukkig het dit nie n braai-drom nie, maar gelukkig het ons ryhuis ‘n gasstofie binne.

Ons staan reg voor teen die strand, die uitsig slaan ons asems weg, net n paar tree en jou voete sink weg in die meelsagte wit sand.

Die water is n lou-warm temperatuur. Ons kan vir ure langs die see stap, hier maak die kilometers nie saak nie en sommer gou vertel ons tree-teller ons dat ons die dag se 10 000 tree ingekry het.

Die aand val daar ‘n paar groot druppels en dit maak die lug baie benoud en vogtig. Die humiditeit is hoog, maar te danke aan die lugreling kry ons ‘n soete nagrus in.

Saterdagoggend is ons vroeg op en lekker ontbyt langs die see. Terwyl ons so uitkyk en uitsien aan die reis wat voorlê, dink ons dit die beste besluit ooit was om ‘n ryhuis te huur, en die mees opwindendste ding wat in hierdie pandemie jaar kon gebeur het!

 

BUFFELSBAAI

Ons “roadtrip” moet voortgaan en ons vertrek na Buffelsbaai. Ek wou vooraf bespreek, maar die antwoord op my epos was dat dit buite seisoen is, en dus onnodig.

By die ontvangs lig die dame my egter in dat hulle net n minimum van 2 nagte vat, maar na my verduideliking oor ons roadtrip, laat sy ons toe en weereens kry ons die bonus van n pensioen-afslag.

Die staanplek is nog nader aan die see. Slegs ‘n muurtjie voor ons waar die ingeboude braaiplek is, skei ons van die klotsende branders. Idilies mooi.

Die uitsig na Brenton on Sea is so helder en met laagwater kan ons ver langs die see gaan afstap. Hoekom smaak n eenvoudige broodjie net soveel beter op die rotse?

Dis ook n ideale plek vir branderplank ry, dus is die see besig en vol jong, lenige lywe. Die water is lou-warm, hier en daar lê ‘n jellie-vis uitgespoel , die klein slakkies het n fees, lyk soos n Saterdag Markie op Sedgefield.

Terugstap was eintlik op n drafstap, want toe begin die gety inkom, en nou voel die 5km ekstra ver!

Sonsondergang is ‘n koelronde goud bal wat vinnig afsak in die water om ‘n volmaakte dag af te sluit.

Sondag 14 Feb, en dis Valentynsdag. Oppak en vertrek kan so vining of langsaam wees soos jy besluit. Aangesien dit n volledige huis op wiele is, kan jy net begin ry. Geen uit of inpakkery nie. Hierdie wa het ook nie ‘n afslaandak nie, dus tel ons net die stoele en tafeltjie op en weg is ons.

 

PLETTENBERG, A FOREVER RESORT

By die ontvangs van Forever Resorts in Plettenbergbaai, hoor ons dat ten spyte van my bespreking van ‘n geplaveide staanplek met elektrisiteit en, mees belangrik, ‘n rivier of lagoon uitsig, daar glad nie so iets beskikbaar is nie. Ons moet glo maar staan waar ons wil! Die staanplek is toe reg langs die ablusieblok, met GEEN uitsig op die rivier! Wat ‘n telleurstelling. En die kamp is so vol dat jou bure se gesprekke duidelik hoorbaar is.

Tog bly die area baie mooi. Lower groen woude en die rustigheid maak dit n lushof vir die voels.

Daar’s putt-putt bane, trampoliens en kanos om te huur. Visvang in die lagoon is ook n groot aktiwiteit. Ons prober “dropshot fishing” doen, maar die vissies is egter te slim om te val vir hierdie plastiek vissie wat vooraan hang.

‘n Sagte reënbui sak uit, wat net almal se braaivleisvure blus. Dis hier waar ons ook net agterkom daar is wel een ding wat ons mis in die ryhuis: daar is nêrens ‘n hak of plek om ‘n klam handdoek, opwas-lap of selfs sleutels op te hang nie. Dus geen kans dat iets hier binne kan droog raak nie.

Jammer die Maui het nie ‘n afdakkie of ‘n gleufie waar ‘n seil kan gespan word nie, dus sit jy buite heel ontbloot. Ons gebruik maar ons eie sambreel.

 

STORMSRIVIERMOND

Stormsriviermond

Maandagoggend vertrek ons vroeg na Stormsriviermond in Tsitsikamma. Dit neem so ‘n uur se rustige ry. Die staanplek is weereens feitlik op die see, klotsende branders slaan teen die groot klippe op ons voorstoep.

Pragtige groen grasperke, goed versorgde en geplaveide areas vir ons wa. Die ablusie blokke is mooi verskuil onder die grasperk onder n heuwel.

Die Kiosk en Restaurant is so 15 minute stap vanaf ons staanplek en daar kan jy enige voorrade koop, tot ‘n lekker Magnum roomys as die lus te groot raak. Die wasmasjiene se tokens kan ook daar verkry word.

Daar is verskeie wonderlike staproetes in verskillende rigtings en grade van moeilikheid. Ons stap eers na die hangbrug, die wind waai redelik sterk en dit maak die oorstap nog meer opwindend om so heen en weer geswaai te word, lekker adrenalien-inspuiting.

Gewoontlik bied hulle kajak toere aan wat opgaan in die bergklowe, maar ons sien nie vandag kans vir sulke avonture nie.

Die ruig plantegroei sorg vir vele voëlspesies, tot die bekende Knysna loerie maak sy verskyning, maar hop vinnig van een takkie na die ander en maak dit so moeilik om hom af te neem.

Die dassies is egter so mak, mens kan tot baie naby hulle kom en maak die fotos duidelik… tot die babatjies lê gerus en poseer.

Radio- en selfoonopvangs is swak, maar wie het so iets nodig met die bruisende branders klotsend op ons voorstoep?

Ons begin die “Loerie’ roete stap, dit neem so 45min uit en tuis, en is meesal deur die digte woude teen die kop uit. Uitsigte van daar bo is asemrowend mooi, die see n besonderse blou-turkoois.

Braaigeriewe is baie goed, die seëvoels sit egter op wag en hoop vir ‘n onbewaakte oomblik om net hul deeltjie vining op te raap. Ons hou dus maar beurte om van die vuur af weg te gaan indien daar iets nodig is.

Stormsriviermond

Dinsdag, Dag 5 van ons avontuur. Weereens ‘n bewolkte oggend, so ons sonopkoms-fotos is in baie goed nie. Daar val tot ‘n paar druppels.

Na ontbyt pak ons die Waterval-roete aan, wat ook die begindeel is van die welbekende Otter-wandelpad. ‘n Stywe enetjie hierdie, maar elke steun en kreun die moeite werd. Die digte bosse, die voëlgeluide en bo alles die dreuning van die branders, soms naby en soms is jy so hoog teen die kranse op dat die uitsig asemrowend mooi is.

Eers kom ons by die Guanogrotte uit, ‘n massiewe groot en baie diep grot waarvan ons nie die einde kan sien nie. Groen mos groei oral teen die kante uit.

Na ‘n uur en n half se klipspring en klouter teen die rotshange uit, kom ons by die pragtige groot waterval en swemgat uit. Dit slaan ons asems weg, en vir ‘n lang tyd kan jy net doodstil sit en kyk na wat die natuur jou bied. Geen wonder hierdie wandelroete is wêreldbekend en moet jy ten minste ‘n jaar vooruit bespreek as jy die volle 5-dag roete wil doen nie. Wat ‘n voorreg het ons nie so op ons drumpel nie.

Na ‘n heerlike lafenis van teë en koekies wat ons saamgedra het, pak ons die terugtog aan. Met knieë wat gou kla en begin voel soos jellie, en die humiditeit wat so hoog is, is ons sopnat gesweet toe ons twee ure later weer terug is by ons wa.

Woensdag 17 Feb. vir oulaas ontbyt buite op ons voorstoep met die beste uitsig in die wêreld. Stormsrivier is defnitief ons gunsteling en in ons oë die mooiste plek in Suid Afrika.

Oppak is so ‘n fees, alles is klaar binne, net deure, vensters en luggate sluit, die krag ontkoppel en daar trek ons, die luuksheid van ‘n ryhuis!

 

EBB-AND-FLOW REST CAMP

Ebb and Flow Rest Camp

Naby Plettenbergbaai stop ons by ‘n organiese mark, koop ‘n heerlike tuisgebakte broodjie en drink lekker koffie. Daar is gelukkig genoeg spasie om maklik te draai met ons groot huis op wiele.

Ons arriveer by SANParks in Wildernes en versoek die Ebb-And-Flow kampterrein. Lieflike gras-staanplekke reg langs die Touwrivier onder die koeltebome. Tarentale, wilde eende en ander voël pesies stap tussen die karavane deur. Die atmosfeer is rustig.

Heelwat staproetes en die geleentheid om vis te vang en kanos te ry. Lieflike visarende sweef oor die riviere en wag op hul kans vir aandete.

‘n Mooi stap-paadjie lei ons al kronkelend langs die rivier op, jy gebruik ‘n pont om oor die water te kom. Net ‘n entjie verder kry ons die mooiste heldergroen sprinkaan, maar voor ek my kamera kon uithaal, glip ‘n klein bruin slangetjie ook verby en spring ek ‘n olimpiese sprong van formaat! En daar word die stap-oefening toe ook sommer beëindig.

 

JONGENSFONTEIN KARAVAANPARK

Jongensfontein

Dit is hartseer om net die volgende dag hierdie mooi lowergroen paradys te verlaat, maar ons het ‘n reisskedule en pak ons die N2 aan oppad na Jongensfontein.
Swaar vragmotor verkeer op die pad, maak die rit langdradig en spanningsvol.

Jongensfontein kampterrein is redelik vol en die wind waai sterk. Ons kry egter ‘n heel beskutte staanplek,en hoewel ons nie ‘n seë-uitsig het nie, kan ons gelukkig darem die see hoor.

Hier het ons geen braaigeriewe, gelukkig gee die Maui-ryhuis ons ‘n baie bruikbare gasstoof.

Ons wilde “troeteldiere” is weereens met ons – dassies, tarentale en fisante – en hulle wag net op ‘n kans om te kom kyk of daar krummels is.

Mede-kampeerders kom gesels gereeld en is baie nuuskierig oor ons ryhuis… lyk my dis baie mense se droom.

Vrydagoggend geniet ons ontbyt op die strand, want nou is dit windstil en mooi.

 

HUIS TOE

Die terugrit verloop goed en voorspoedig, en hartseer kom ons avontuur tot ‘n einde. Net die beste medisyne vir ‘n jaar van ingeperkte bewegings en tyd waarin so baie mense swartgallig en sonder moed is.

Ons voel sprankelend en so bevoorreg om ons pragtige natuur so te kon geniet. Al was dit net ‘n week, voel dit of ons weg was vir ‘n maand – deur heeltemal afgesluit te wees van tegnologie en weer een te raak met Moeder Natuur, het ons onsself ‘n inspuiting van uiterste vreugde en vrede gegee.

Ons het geleer om weer die eenvoudige dinge te waardeer… raak wakker met die eerste sonstrale van die dag en net die voëlgesang as musiek in ons ore, gaan slaap saans nadat ons die sterre getel het en tevrede is dat die nag gereed is om alles te herstel en voor te berei op nuwe avonture wat wag.

 

Post your comment

preloader