Doel van reis: Om Namibië (Kaokoland uitgesluit) te bekyk.
Datum van vertrek uit Nelspruit: Vrydag 11 Julie 2014
Datum weer terug in Nelspruit: Donderdag 7 Augustus 2014
Aantal persone: Ek en my vrou
Vervoer: Mitsubisihi Colt 2.8 4×4 D/K. 2002 model. Standaard met 210 000 km
Karavaan: Jurgens Explorer. 1999 model. Standaard.
Plekke in Namibië besoek: Zambezia provinsie, (Caprivi streek), Etosha Nasionale Park, Klip Vinger, Versteende woud, Brandberg boesman tekeninge, Hentiesbaai, Swakopmund/Walvisbaai, Sossusvlei, Luderitz, Ai-Ais en die Visriver canyon.
Aantal kilometers gery: 8118 km
Koste vir brandstof: R13 400-16
Brandstof verbruik: 6.9 km per liter
Vrydag 11 Julie tot Sondag 13 Julie
Ons het vanaf Nelspruit vertrek en laatmiddag gearriveer by die Big Fig Inn op die Potgietersus/Groblersbrug roete sowat 4 km vanaf Groblersbrug. Dit is die ideale oornagplek as mens na Botswana oppad is.
Die kampeerplek is uitstekend met gras, elektrisiteit en mooi skoon ablusie geriewe. Daar is ook ʼn restaurant en ʼn winkel.
Sondag 13 Julie
Ons is om ongeveer 08:30 sonder enige probleme deur die grenspos.
Die eerste 50 km na Francistown is vol slaggate, maar daarna is die pad skaflik. Ons het by familie in Pandamatenga oornag.
Die mense van Pandamatenga ry sommer gou-gou na die Victoria valle en Hwange aangesien daar ʼn grenspos is. Ons was verbaas oor die baie wild in die omgewing.
Maandag 14 Julie
Ons is sonder probleme deur die Ngoma grenspos na Namibië en het vir twee nagte by die Caprivi Houseboat Safari Lodge oornag. Die Lodge is op die wal van die Zambezi rivier. Daar is benewens chalets, drie skaflike kampeerplekke met goeie basiese geriewe asook ʼn restaurant en lapa .
Ons was op ‘n plesier rit op die rivier (sterk aan te beveel) , het probeer hengel en sommer net op die pragtige lapa sit en ontspan met ʼn koue enetjie.
Die area is ʼn voëlkykers paradys. Ons het die area verken en daar is talle ander goeie akkommodasie ook soos die Kalizo lodge en die Namwi Island campsite.
Woensdag 16 Julie
Ons het deur die Zambezia provinsie gereis en naby Divundu by die Ngepi kampeerplek vir twee nagte gebly.
Die kampplekke is pragtig en op die wal van die Okavango rivier. Die eienaar/s van Ngepi het op kreatiewe wyse daarin geslaag om ʼn unieke kampeerplek te vestig. Dit is beslis ʼn besoek werd.
Ons het hier gesien dat die mense van Namibië ʼn interessante klomp is. Hulle noem ʼn stroomversnelling ʼn waterval. (Popa falls) en skep hulle eie watervalle. (Poopa falls)
Ons het lekker met ʼn oud SWAPO terroris gesels. Hy verstaan glad nie die Boesmans wat in ʼn reservaat daar naby bly nie. (Baie diplomaties gestel.) Dit is ook duidelik dat die plaaslike mense maar skraps leef, maar tog hoop het vir ʼn beter toekoms.
Ons het die Mahango natuur reservaat naby Ngepi gaan verken. Daar is ʼn “wetland area” wat ʼn absolute voël paradys is. Ons het hier ook talle wild soos bosbokke, koedoes, rooibokke en vlakvarke gesien. Daar is ook ʼn 4×4 roete wat ons gery het. Die plek het die mooiste natuurskoon en ons het daar oa. ʼn pragtige bastergemsbok gesien.
Vrydag 18 Julie tot Saterdag 19 Julie
Ons het via Rundu, Grootfontein en Tsumeb na die Etosha Natuur reservaat gereis.
Ons het op Tsumeb voorrade aangekoop. Dit is die enigste plek in Namibië waar ek gevoel het misdaad ʼn probleem kan wees. My vrou het die aankope gedoen en ek het die voertuie opgepas. As jy uitklim en ʼn draai loop is daar skielik jong tiener seuns wat na jou voertuig aangestap kom en baie belangstellend kyk wat binne jou voertuig is.
Ons het by Namatumi hek se kampeer terrein oornag. (Etosha) Die kamp geriewe is basies maar skoon en alles werk.
Mens kan in Etosha, brandstof met ʼn krediet of debiet kaart koop. Namatumi kamp word tans in sy geheel opgegradeer. Die plek het ʼn baie interessante geskiedenis. (Ons beveel aan dat reisigers voor die tyd bietjie oplees oor elke plek se geskiedenis, aangesien dit die besoek sommer baie interessanter maak.)
Ons het die area om Namatumi verken. Die natuurskoon is werklik iets besonders en nie iets wat ons al ooit in Suid Afrika ervaar het nie. Ons het daar baie swartrug jakkalse, springbokke en kameelperde gesien. Die Damara Dikdik is ook gewaar maar dis sommer ʼn baie skaam bokkie.
Die area tussen Namatumi en Halili is ook iets besonders om te aanskou. Daar is letterlik troppe en troppe wild soos Gemsbokke, Springbokke, Blou wildebeeste, Zebra’s, Kameelperde, Volstruise met Koedoes, Rooi Hartbeeste en Swart gesig rooibokke tussen-in.
Ons het wit olifante (wit agv die wit stof ) en ʼn “skaam” olifant gesien. (Dit was ʼn groot bul wat met sy slurp, sy een oor, oor sy gesig getrek het) toe ons begin foto’s neem.)
Die kamp geriewe by Halili is ook basies maar skoon en in ʼn goeie toestand. Daar is ʼn watergat by die kamp vanwaar mens die diere kan dophou. (Ons het daar renosters en hyenas gesien.)
Sondag 20 tot Maandag 21 Julie
Ons het die twee dae by die Eldorado kampeerterrein sowat 6 km vanaf die Okaukuejo hek af gekamp.
Die kampterrein is baie netjies met gras, skadubome, krag en iets wat my vroulief baie bly gemaak het, Wifi. Daar is ook ʼn watergat by die Okaukuejo kamp waar daar letterlik honderde Springbokke, Zebra’s, Blou wildebeeste en Gemsbokke gesien is. Dit lyk of die diere volgens ʼn program kom water drink. Die troppe kom aan en wag dan op ʼn afstand totdat dit hulle beurt is.
Ons het die Moringa woud gaan bekyk asook Rietfontein waar ʼn groep van die Dorsland Trekkers vir ʼn tyd gebly het, besoek. Ons het oppad ook Cheetahs gesien.
Die hoogtepunt was egter die Okaukeujo watergat. Ons het ure daar gesit en ons verstom aan die baie wild wat sover as wat die oog kan sien, nader beweeg het om te kom water drink.
Ons het ook ʼn jong leeu wat langs die pad gelê het gesien. (Die ou was beseer.)
Die Duitsers en ander Europeërs is baie lief vir die Etosha. By elke kamp was die verre meerderheid besoekers van Duitse afkoms. (Hulle kampeer meestal in huurvoertuie met daktentjies op.)
Dinsdag 22 tot Vrydag 25 Julie
Ons het via Outjo en Khorixas na die Rots vinger en die Versteende bome gereis. Op Outjo is die De La Rey slaghuis wat heerlike droëwors en biltong verkoop.
Die Rots vinger en versteende bome is indrukwekkende plekke wat mens laat besef dat Namibië lank gelede kataklismiese natuur veranderinge moes ondergaan het.
Na die besoek aan die versteende woud, het ons na die Brandberg White Lady Lodge and Camping vertrek. (Ons het op advies van plaaslike mense besluit om ons reisplan te verander en na die Lodge te reis om vandaar na die Boesman tekeninge in die Brandberg te gaan kyk.)
Ons het nie regtig iets van die Lodge geweet nie. Ons kaart het nie die plek gewys nie, maar die GPS het darem geweet waar die plek is. So ry ons toe laatmiddag.
Dis baie afgeleë en ons is alleen op die pad, maar dis lekker. Die pad raak al slegter maar dis ook Ok. Ons het mos ʼn 4×4 voertuig en die vrou wat ons geadviseer het, het gesê dat die pad nogal sleg is.
Die omgewing is vreemd maar baie mooi. Ons het nog 44 km om af te lê en dit raak sterk skemer. Ons stop om foto’s van die sonsondergang te neem. Ek ry afdraande en beland in ʼn rivier bedding. (Later verneem dit is die Ugap rivier.)
Skielik is ons in DIK sand, die GPS tannie is histeries en sê ons moet omdraai. (Gelukkig was my vroutjie doodstil.) Die Colt se bande is nie genoeg afgeblaas vir sand ry nie en ons sleep ʼn 1 ton plus karavaan. Daar is nie plek vir omdraai nie en daar is net een pad en dit is vorentoe.
Gelukkig kon ek sien of daar voertuig bandmerke in die sand is of nie. (Dit vertel jou of jy met momentum moet deurgaan of nie.) Gelukkig bedaar die GPS tannie en toe sy weer praat het sy goeie nuus! Ons is met ʼn ander roete op koers na Brandberg White Lady Lodge en die goeie nuus is dat dit nou net 14 km ver is. (Dankie tog vir Tracks for Africa!)
So “four by four” ons toe maar voort in die rivier bedding tot ons by die Lodge aankom.
Ons stop by die Lodge en is totaal verras. Dis ʼn luukse plek in die middel van nêrens! Ek stap in die restaurant in en daar speel die mooiste klassieke musiek! (“Conquest of paradise” met komplimente van Vangelis.)
Toe ek later die aand in die kampterrein stort en die warm water spoel oor my en ek sien ontelbare sterre, toe weet ek, God is groot en ons het ʼn wonderlike vakansie!
Ons het die volgende dag die sg. White Lady rots tekeninge gaan bekyk. (Dit is nie ʼn wit vrou nie maar ʼn Boesman medisyne man.) Die tekeninge is sowat 2.5 km se stap in die Brandberge in. Ons het die gids uitgelok om meer oor die area te vertel en was aangenaam verras met die man se kennis en sy liefde vir die omgewing.
Ons het later die dag na Hentiesbaai vertrek. Toe ons so tien km van Hentiesbaai af is toe sien ons hoe digte mis van die see se kant af, oor die woestyn spoel. Toe ons in Hentiesbaai aankom is dit koud en effens donker van die mis.
Ons het by Buck’s kampterrein gaan kamp opslaan. (Baie skaflike plek. Elke kamp het krag en water met ʼn eie toilet, stort en kombuis area.)
Ons was nie lus om kos te maak nie en het die dorp gaan verken en sommer ook ʼn eetplek te soek. Hentiesbaai is op groot skaal aan die uitbrei en is beslis nie meer net ʼn plekkie waar ouens kom visvang nie. Ons ontdek toe daar ʼn juweel van ʼn eetplek. ʼn Klein restaurant met die naam Fishy Corner.
Toe ons van buite waar dit half donker, winderig en koud is in die plek instap, is daar ʼn kaggel waar ʼn vuurtjie brand en vriendelike mense wat regstaan om ons te bedien. Die “seafood platter” was uitstaande! Ons het lekker met van die plaaslike mense gesels en hulle aangename “sout van die aarde” tipe mense gevind.
Ons het die een persoon se advies gevolg en die volgende dag by Galjoensfontein gaan Galjoene vang. Die vis het lekker gebyt!
Ons het ook na Cape Cross gereis om die Rob kolonie te gaan besigtig. Dis die moeite werd om dit te sien!
Vrydag 25 tot Maandag 28 Julie
Ons het die volgende drie nagte by die Sand Piper Lodge tussen Swakopmund en Walvisbaai oornag. Dis ʼn moderne en lieflike plek. Ons het die basiese geriewe soos ʼn bad en TV opnuut waardeer.
Ons het die tyd gebruik om alles net weer skoon te kry en sommer te kyk hoe lyk die twee stede. Die Duitse tipe kos in Swakopmund is heerlik! Die museum en Kristal Galery is ʼn moet om te sien.
Ons het ook die voorreg gehad om vir Martin Luther naby Swakopmund te ontmoet! Lg. is ʼn stoom trekker wat in 1896 deur Luitenant Troost vanuit Duitsland ingevoer is om goedere te vervoer. Die reuse trekker het na ʼn paar jaar se diens net gaan staan. Omdat dit swart is en nie verder wou beweeg nie, het die mense dit Martin Luther gedoop. “Here I stand, I can do no longer.”
Ons het ook die woestyn ingevaar met “quad bikes” van Desert Explorers. Dit is ʼn belewenis!
Die sg. Maanlandskap en die Welwitschia’s is ook die moeite werd om te besoek.
Ons het die Sondag oggend die hawe by Walvisbaai gaan bekyk. Dis heerlik daar en ʼn plek waar ons mooi foto’s kon neem. Die Flamingo’s by die Esplanade is regtig ʼn gesig om te sien!
Maandag 28 Julie tot Woensdag 30 Julie
Ons het via die C 14 roete na Sossusvlei gereis. Die roete gaan oor die Kuiseb en Guab passe wat baie mooi natuurskoon bied.
Solitaire is ʼn bewys van die Namibiërs se ondernemingsgees. Hier het mense nou wraggies tussen niks en nêrens ʼn klomp ou kar wrakke bymekaar gesit, ʼn motorhawe, bakkery en winkel gevestig en siedaar, klomp toeriste stop elke dag daar en mense lag en leef in die woestyn!
Ons het by Betesta Lodge and Camping oornag en vandaar af na Sossusvlei gereis. Dis bietjie ver van Sossusvlei (44km) maar ʼn oulike plek met goeie geriewe wat waarde vir jou geld bied.
Die Sossusvlei area en die Sesriem canyon is regtig iets om te sien. Sit minstens een dag daarvoor opsy. As fotografie jou ding is, stel ons voor dat daar eerder by Sesriem oornag word. Dit is duurder maar jy het dan vroegoggend en laat middag nog toegang tot Sossusvlei.
Woensdag 30 Julie tot Vrydag 1 Augustus.
Ons het via Betta en Helmeringhausen na Aus gereis waar ons vir twee aande oornag het. Hierdie roete het die mooiste natuurskoon!
Ons wou by Klein Aus Vista oornag maar die plek was vol. Ons het toe by ʼn klein kampterrein in die dorp oornag. Ons het een aand by die Bahnhof hotel gaan eet. Wat ʼn oulike plek met goeie kos!
Ons het die Kolmanskoppe dorpie naby Lüderitz gaan besoek en dit werklik baie interessant gevind. Die plek is ʼn moet om te besoek.
Ons het ʼn dag spandeer om Lüderitz en omgewing te verken en plekke soos die Diaz Punt kruis, besoek. Die plaaslike museum is ʼn moet as jy in geskiedenis belangstel.
Vrydag 1 Augustus tot Dinsdag 5 Augustus.
Ons het na Rosh Pinah gereis en daar by familie gekuier. Daarna is ons na Ai-Ais waar ons een aand oornag het. Dit is ʼn baie netjies plek en beslis aan te beveel.
Die gedeelte tussen Rosh Pinah en Ai-Ais is op talle plekke soos ons Richtersveld- Berg woestyn. Die area is asemrowend mooi.
Ons het via Hobas na die Vis-rivier canyon gaan kyk. Dis ʼn ongelooflike plek en ʼn moet om te sien!
Ons ry daar tussen niks en nêrens en kom af op ʼn Ford Ranger wat langs die pad staan.
Ons hou stil en sien die een agterband is flenters. Daar klim twee meisiekinders in hulle vroeë twintiger jare uit die Ford- baie bly om ons te sien! Hulle kom van België en het die voertuig op Windhoek gehuur om deur die Suide van Namibië te toer. Die probleem is: hulle kry nie die wielmoere van die pap wiel los om die wiel te vervang nie.
Ek help hulle gou maar maak toe ook ʼn ontdekking; Die Ford Ranger se domkrag is heeltemal te lig in die broek om die Bakkie op te lig! Ek moes toe my domkrag gebruik.
Hierdie meisies kon groot drama gekry het as ons nie opgedaag het nie. Die motor verhuringsmaatskappye behoort regtig seker te maak dat hulle benewens die voertuig, ook die regte toerusting aan mense verskaf.
Woensdag 6 tot Donderdag 7 Augustus
Ons het met ons terugreis na Suid Afrika begin. Ons het by die Eiland in Upington oornag.
Die Munisipaliteit bestuur die plek. Ons het die goedkoopste tarief daar betaal en die plek is baie skaflik.
Wat ʼn wonderlike vakansie! ʼn Besoek aan Namibië behoort op alle reisigers se “bucket list” te wees.
Hoe is die grondpaaie van Namibië?
Dis nogal sleg hier en daar, maar dit is net sissies wat oor slegte paaie kla.
Het ons teëspoed gehad?
Ja, die Colt het ʼn pap band gekry maar ons het dit gelukkig gou agtergekom. Die band kon op Luderitz herstel word. Die karavaan se dak stutte het skade gekry toe ons in die Ugap rivier se bedding gaan “4×4” het omdat ons nie die “straps” behoorlik vasgemaak het nie. Ons kon dit op Hentiesbaai herstel. Ek het een dag met die Colt agter-uit gery en dit teen ʼn boom “parkeer” Die linker buffer lyk nou bietjie snaaks.
Enige ander advies? Neem ʼn stuk ou binneband saam.
Jy sal verbaas wees oor watter probleempies jy alles daarmee kan oplos. (Jerry kanne wat lek, goeters wat teen mekaar skuur, ens.) “Duct tape” is ʼn moet. Namibië het een ding baie van; -stof! Ons karavaan het by die kombuis gedeelte stof ingekry en ons kon dit met “duct tape” seël.
Moenie maak wat ek gedoen het nie. Ons koop die beste kaarte van Namibië op die mark om saam met die GPS te gebruik;- en vergeet dit by die huis.
Join the Conversation
We'd love to hear your thoughts! Share your insights, questions, and experiences with us and join the conversation. Your feedback helps us create better content and foster a community of passionate caravanners. Post your comment below and be part of the discussion!