Register | Log in

Groen geluk in Namibië se Kavango-streek

25631
VIEWS
WhatsApp

 

HAKUSEMBE

Wanneer die mannetjie en wyfie Swamp Bou-Bou (Moeraswaterfiskaal) roep na mekaar, dan weet ons, ons is by die groot riviere van Namibië – die Groot Okavango waarvan Annelie van Rooyen sing.

Ons is vanoggend vroeg uit Swakopmund en slaap ons die eerste aand by Hakusembe se kamp terrein, by die Kavangorivier, wes van Rundu. Sover soos ons gery het, is die wêreld groen en dis ongelooflik hoe groot die bome is hier naby die rivier. In die Otavi-vallei met sy pragtige groen berge en rante word die prentjie vervolmaak met ‘n heerlike reëntjie.

By Mururani-hek is ons altyd op ons senuwees oor ons vleis-produkte. Mens mag rou vleis invat, maar nie terugbring nie. Mururani is die Rooi-lyn beheerpunt, wat bek en klouseer beheer.

Hierdie groot bome is seker die bome waaronder die Khouta (stamraad) vergadering hou, soos Pieter Pieterse skryf in sy boek Habdeklap vir Afrika. Die “raadsale” is nou leeg want hul is seker bang vir die weerlig. Die weer is baie dreigend en ons het deur erge donderstorms gery.

Ons arme Imagine Trailvan, genaamd Stronkie, sal ook wonder watse planne ons met hom het. Vier maande gelede is hy getoets om te sien hoe hanteer hy stof en klippe en nou is hy nat van die reën. Van een uiterste na ‘n ander.

Hierby Hakusembe is dit bewolk en heerlik koel en op die oomblik geen reën. Pragtige kampplekke met eie ablusie.

 

 

WHITE SANDS

Ons reis verder na White Sands, aan die oorkant van die Popavalle en naby Buffalo wildtuin. Ons vriend Bossie wat betrokke was by die bou van baie van Namibië se teerpaaie en brûe het baie interessante inligting van die brug by Divundu, wat oor die Kavango rivier gaan, gegee.

Bossie vertel: “Ek was betrokke by die paaie in hierdie wêreld vanaf 1981 tot ek dink 2015. Die Okavango Rivier-brug is so 2013-rond ingewy. Weens gewig kon ons die nuwe blad bo-oor die ou bestaande enkel wydte dek, net 100mm dik giet!
“Mens kan regop loop onder die pad in die vierkantige opening binne die dek. Jy stap al langs gespande staalkabels in 110mm hulse wat die brug met vol verkeer in die lug hou.
“Ek dink nog baie aan die ou, slegte toestand van die stofpaaie in die 80’s – veral wanneer jy beland in militêre konvooie van tot so 80 trokke. Gevaar voor en agter jou.
“Elke pad het sy stories. Hulle word vir 20 jaar ontwerp (brûe 50 jaar) wat so gou verbygaan en herkonstruksie is alweer nodig.”

Maar terug terug hier by ons kampplek by White Sands, waar ons nou op die dek sit, en kyk op die Popavalle. Die hoofvalle is reg voor ons kampplek.

 

 

White Sands is ‘n fantastiese kampplek. Groot bome en gras, eie badkamer en elke kampplek ook groot grasdak, te lekker.

Vanaf die dek wat tussen twee reuse Jakkalsbessiebome staan met ander bome en rankplante, kyk ons op die vloedvlakte wat vol papirusse is en die rivier wat groot en sterk loop. Gistermiddag ‘n heerlike sterk bui reën geval, 25mm. Vandag so misreëntjie en dis heerlik koel en geen muskiete!

Gisteraand groot opgewondenheid toe Marius ‘n vuurvliegie opmerk en later ‘n klomp wat vlieg oor die papirusse; dit lyk soos “fairy lights”. Dis is so mooi en spesiaal. Enigste plek waar ons nog ooit vuurvliegies gesien het, is naby Popavalle waar “rapids” is.

Ons was gister by Danie en Retha (familie van Marius) by Okaquito. Retha gee vir ons vars geplukte mangoes uit haar tuin. Ons het toe vanoggend die heerlikste vrugtekelkie gehad en het nog voorraad vir ‘n week. Proe nie soos winkel mangoes, wat te groen gepluk word, bevoel en bevat is deur massas mense nie.

Hier by White Sands het hul ook die pragtigste groentetuin en alles lyk so gesond. Lynn is die bestuurder en sy gee toe vir ons ‘n kraakvars boere-komkommer.

Soos dit skemer word neem die Heuglin-Janfrederik die voortou met voël gesange wat byna nooit ophou.

White Sands is ‘n nuwe lodge met kampeergeriewe. Die kamp-gedeelte is voltooi want hul kon net van die vorige “community camp”, die geriewe bietjie opgradeer. Die lodge gedeelte is nou in aanbou.

Die “sunset bar” / dek is ook reeds voltooi. Ons het baie tyd hier spandeer met die pragtigste uitsig oor die Kavango stroom-af asook stroom-op oor die Popavalle.

Die restaurant gedeelte wat in aanbou is, gaan ‘n imposante moderne struktuur wees wat baie mooi by die Popavalle natuur en uitsig pas.

Die paadjies wat lei vanaf die kamp gedeelte na die restaurant area, inligtingsentrum, uitsigpunte en die “sunset bar” / dek is reeds voltooi. Die inligtingsborde en yster beelde, wat White Sands se embleem uitbeeld, is baie treffend.

 

 

By die uitsigpunte is spierwit sand, wat “skreeu” as jy daarop loop. White Sands Lodge kry sekerlik sy naam hiervan. Mens sal baie lekker hier kan sonbaai, maar oppas maar ons het baie, én baie groot krokodille hier gesien.

White Sands se kampplek ligte is baie oulik. Al die ligte is gewoonlik op die grond onder ‘n groot boom of bos wat dan regop in die boom of bos in op skyn – dit gee ‘n baie pragtige effek.

Voëls wat mens nie sommer sien nie, is die Withals Sprinkaanvoëls – hier reg voor die dek waar ons sit. Ons het vier pare van die Withals Sprinkaanvoëls gesien, met twee pare wat ook jong voëls by hulle gehad het. Gelukkig kan die jong voëls reeds vlieg, want in die vorige seisoene het die Kavango-rivier te vinnig hoog geraak, wat veroorsaak het dat die jong voëls nog nie kon vlieg en ongelukkig dit nie gemaak het nie.

Die Withals Sprinkaanvoëls leef op die rotse wat in die rivier is, en ons neem aan hulle maak ook hulle neste daar. So elke nou en dan vlieg al drie om seker kos te gaan soek, maar die jonge bedel die heeltyd by die Ma of Pa.

Die Sprinkaanvoëls kan vinnig, rats en sierlik vlieg wat baie herinner aan ‘n Swael wat die meesters van die lug is. Die Sprinkaanvoëls jag insekte in die lug gewoonlik teen skemer. Die meeste van die rotse steek maar seker 300 mm bo die watervlak huidiglik uit. Pragtige voëls.

Met al die reën die hele tyd wat ons gekamp het, moes ons ‘n plan maak om darem ‘n idee te hê hoeveel dit reën. Marius het toe ‘n deurskynende emmertjie, wat ons gewoonlik gebruik vir ‘n vuilgoed emmer, in ‘n reënmeter verander. Hy het 25, 50, 75 en 100 mm merke met ‘n bouer se maatband afgemerk. In die Kavango is dit nie nodig om 5 of 10mm reën te meet nie, dit reën baie meer as dit.

Wat net ongelooflik is dat hier nie muskiete is nie. Dis elke dag bewolk met so hier en daar ‘n motreëntjie. Geen hitte nie, net lekker.

 

 

BUFFALO-WILDTUIN

Ons besoek ook Buffalo-wildtuin. Dis waar die ou Buffalo militêre kamp was. Alles is oorgroei en mooi.

Jy moet maar 4×4 hê om daar te ry. Gewoonlik is die sand ‘n probleem, nou is die sand nat en dit ry maklik. Daar is wel ‘n paar turf modderkolle, maar daar is elke keer ‘n ompad om die moddergat.

Natuurlik volop voëls, die een so mooi soos die ander. Sover geen lifers nie, maar altyd lekker om weer die Okavango se besondere voëls te sien.

Meeste mense wat Buffalo-wildtuin besoek, besoek die weermag basis ruȉnes, wat oor ‘n wye area versprei is. Dit was ‘n enorme kamp. Ons dink min mense is bewus van die offisiers-area, of te wel dis soos ons dit verstaan. Dit is geleë naby aan die toegangshek na die rivier se kant.

Wat daar nog duidelik te sien is, byna ongeskonde, is die braai en die kroegtoonbank. Dit is met klip gebou en die res van die plekke met steen gebou. Mens kan sien wat was vir hul baie belangrik: die braai en die kroeg. Dit het seker ook vir hul deur moeilike tye gehelp.

Daar is ook die mooiste trappe wat ‘n ent afgaan na die rivier. Die trap is redelik toegegroei en langs ‘n ou groot wildevyeboom. Dit staan nog alles, maar die steen murasies is meestal tot niet.

Daar is reuse ou bome wat seker baie stories kan vertel van lief en leed. En op die ou einde is die natuur besig om alles weer terug te neem vir homself.

 

 

Ons wou gaan soek na die Pel’s visuil, wat hul nes gehad het in ‘n groot Jakkalsbessieboom naby aan die Okavangorivier. Ons kon dit nie kry nie en die rede daarvoor is soos ‘n gids vir ons vertel het: Ongeveer ‘n jaar gelede was daar ‘n miltsiek pandemie onder die seekoeie en al die karkasse moes verbrand word. Die visuile het seker oor al die onrus en warboel verhuis. Hoop maar hul trek weer eendag terug na dié Jakkalsbessieboom.

Iets wat ons vinnig opgeval het gedurende ons toer is al die verskillende sampioene. Hulle verskil baie in grootte, kleur en vorm. Wanneer hul kleiner is, staan hulle sommer in hul honderde. Groter sampioene is gewoonlik alleen.

Wit, is die mees algemene kleur, spierwit. Van die sampioene is skakerings van pienk of bruin. Een baie groot een by die Kwandorivier was groen-bruin, amper kkakie. Ons kon ongelukkig nie die verskillende sampioene identifiseer nie, maar hulle was so mooi en opvallend dat ons moes fotos neem. Ons weet ook natuurlik dat wilde sampioene baie giftig kan wees en moet nie net sommer geëet word nie.

 

 

Marius is natuurlik baie allergies vir sampioene, ook die omajowas. Omajowa is ‘n Herero-woord wat ten minste op twee maniere gespel kan word. Die ouer mense is geleer om dit omayova te spel, maar die jonger mense spel dit nou omajowa of omajoval. Hoe dit ook al gespel word, is daar baie maniere om dit voor te berei. Gebraai in botter, gebraai, ‘steaks’ in ‘n beslag, berei as sop, risotto, sous of toegedraai in gebak, op pizza of selfs in roomys (vreemd miskien, maar blykbaar lekker).

Die omajowa is ‘n gewilde Namibiese lekkerny, wat elke jaar ná die eerste somerreën met gretigheid verwag word, insluitende die diere wat dit ook graag eet. Statistieke wat al genoem is, was blykbaar 55 sampioene op een miershoop, en die grootste het ‘n deursnee van tot 45 cm! Sjoe, mens kan dae spandeer om so ‘n sampioen te eet! Geen wonder dat Namibiërs sampioen ‘steaks’ maak nie!

Hier by White Sands, het ons die Afrikaanse Riethaan elke oggend tussen die papirusse in die rivier se vloedvlakte gehoor roep, maar sien is min.

Ons het die aand heerlik gaan slaap met paddatjies se gekwaak, ”rapids” se geruis en lekkerste sagte reën op Stronkie se dak.

En dit is waar on Kavango-storie vir eers eindig. Ons vertel julle later van ons volgende avontuur.

 

Join the Conversation

We'd love to hear your thoughts! Share your insights, questions, and experiences with us and join the conversation. Your feedback helps us create better content and foster a community of passionate caravanners. Post your comment below and be part of the discussion!

BACK TO TOP