Subscribe
Register | Log in

Etosha en Kunene is werklik Wild- en Voëlkykparadys

22476
VIEWS

 

Ons groot toer na Etosha is reeds in September 2019, ‘n volle jaar tevore, beplan saam met ons vriende van die Kaap, Jacques en Nelmarie.

Aanvanklik sou Jacques-hulle saam met ander Kaapse vriende deur Damaraland ry en ons sou dan by Olifantsrus, Etosha-Wes, by mekaar aansluit. Maar Corona het ons almal gefnuik – Jacques en Nelmarie sou nie meer kon kom toer nie.

Gelukkig het Namibia Wildlife Resorts en Gondwana na Corona sulke uitstekende tariewe gehad, dat ons toe ons Etosha deel verleng het met 11 nagte.

 

 

Uittreksel uit ons Reis-Dagboek

[4 September] HALALI

Ons het gister so half vyf by Halali gearriveer. Dit is so lekker om losgelaat te wees uit Erongo-streek na die lockdown. Ongelooflik baie diere gekry, veral springbokke en zebras.

Dawie (broerskind) het eergister by Rietfontein “3 miljoen” gekry, maar ons sal sê so 3 000. ‘n Gesig om te sien.

Halali watergat het ons (soos altyd) nie teleurgestel nie. Daar was 35 olifante van so drie groepe met nogal heelwat kleintjies. Asook ses swart renosters met twee kleintjies en twee hiënas.

Gister het ons by Outjo Bakkery,  pasteie gekoop en ek  het vergeet om brood te koop. So vanoggend het ek twee brode gebak in die braaipan. Ouma Una sou trots op my gewees het, lyk nes haar “kolohelse” brode.

Hier by Halali is dit doodstil. Drie kampplekke is beset en dit sluit ons in. By die ander akkommodasie, het ons net een voertuig gewaar.

In die toegangsregister van Etosha by die hek is dit net Swakop en Walvis besoekers, vir elke een Walvis-inskrywing is daar nege van Swakop.

Windhoek is nou nog ge-lock en natuurlik geen buitelandse toeriste. Dit gee ‘n baie ontspanne atmosfeer en ‘n veilige Corona omgewing.

 

 

[5 September] HALALI GOAS WATERGAT

Daar was so 25 olifante. Kostelike ding wat daar gebeur het: Voor by die gat staan ‘n klein olifantjie en so ‘n meter weg sit ‘n jong tortelduifie.

Die olifantjie swaai sy slurp na die duifie maar die duifie reageer nie. Die olifantjie staar die duifie aan, stap nader en swaai met sy poot bo-oor die duifie asof hy wil sê “gee pad, ons drink nou water”.

Die duifie sit doodstil en skielik hak die olifantjie af en skop wraggies die duifie weg! Toe vlieg die duifie maar. Ons kon nie glo dat die olifantjie dit doen nie! Ongelooflik!

Ons in Afrika is regtig bevoorreg met ons dierelewe en naggeluide. Ons kyk dikwels na YouTube progamme van kampeerders in bv. Australie. Dit is doodstil in die aande daar, geen beweging van enige aard. Donderdagaand en Vrydagaand se naggeluide was wonderlik. Eerste keer dat ons Nonnetjie-uile so heel nag hoor gesels. Die Drongo (Mikstert byevanger), jaag die Nonnetjie uil in die skemer. Gedurende die dag jaag die Drongo weer die kraaie weg.

Die Witkoluil, fisante, hiënas, jakkalse en olifante wat trompetter, ook die heelnag gehoor.

 

 

[5 September] RIETFONTEIN

By Rietfontein vanoggend die wonderlikste gesig van massas en massas diere. Olifante wat vir ure in die water baljaar en sommer net gaan lê vir die lekkerte. Regtig duisende zebras dan nog springbokke, koedoes en gemsbokke. Voel vir my die diere het iewers weggekruip en kom nou na vore.

Sondagoggend die eerste keer in die Etosha ‘n luiperd gesien by Goas. Die middag het ander mense ‘n tierwelpie ook by Goas gekry en ons vermoed dis die ma wat ons die oggend gesien het. Daar was weereens massas diere veral zebras. Baie springbokke ook. Die wintergras is so mooi en die diere is in ‘n goeie kondisie. Genoeg kos .

 

 

[8 September] OKAUKUEJO

Oppad Okaukuejo toe, het ons twee groepe leeus langs die pad gekry. Net toe ons gister hier by ons kampplek stop so 20m van die heining, stap daar 35 olifante netjies in ‘n ry verby. Dit is ‘n wonderlike ervaring om olifante so naby, met net die draad tussen ons te sien.

Een van die kampeerders hardloop heining toe, deur die bosse en klitse om ‘n video te neem. Toe die laaste klein olifantjie verby kom, het een van die grotes sy ore begin swaai en trompetter, en die ander dadelik rondom die kleintjie gaan staan. Toe daardie olifant so trompetter skrik die man so, dat hy holderstebolder terug deins deur die doringbosse. Hy kom  bloedbelope by sy kampplek aan, maar sy video het hy gekry.

Koedoes in groot troppe is nie algemeen nie, maar by Aus het ons 44 in ‘n trop gekry, ongelooflik mooi. Later by Olifantsbad weer 14 bymekaar. By Gemsbokvlakte en Nebrownie is dit net diere sover jou oog kan sien.

Op die oomblik is hier by Okaukuejo se gat ses swart renosters – een renoster maak of hy ‘n seekoei is en swem die hele watergat deur.

 

 

[9 September] OKAUKUEJO

Ons laaste aand by Okaukuejo, en dit was ‘n dag vol verrassings hier in die kamp. So 8am se kant het ek ‘n Dwergvalkie gekry en Marius het fotos geneem. Dis die kleinste en  mooiste valkie.

So 10am is ons watergat toe en tot ons opgewondenheid vind ons ‘n leeuwelpie lê teen die heining. Hy lê onder die drade en dit lyk glad nie of hy lewe nie.

Die persoon wat hom opgemerk het rapporteer dit en almal wag nou vir die veearts. Die veearts sê die welpie lyk so drie weke oud en baie swak. Maar toe die veearts oorklim en aan hom wil raak kry hy lewe en hardloop, maar bly heeltyd onder die skuins draad.

Die veearts het sulke dik handskoene aan een hand. Die ander man het ‘n hokkie waarin die welpie gesit moet word. Laat ek vir jou sê die halfdooie welpie het toe baie lewendig geword. Hy blaas en knor en naels is uit. Hulle het gesukkel om om hom in daardie hokkie te kry.

Hul kan nie verklaar hoe die welpie daar gekom het nie. Hul sal nou kyk wat sy welstand is en dan verdere besluite neem.

 

 

In die voëlboeke lees ons dat die Dwergvalkie in die Versamelvoëls se neste slaap en dit kan uitgeken word deur te kyk watter nes se rand wit is van die mis. Langs ons kampplek is ‘n groot versamelvoël nes. Terwyl ek met kos besig is hoor ek net die versamelvoëls raas vreeslik en klink baie  ontsteld.

Ek kyk of ek nie ‘n slang of iets sien wat hul ontstel nie en daar sien ek die Dwergvalkie by hul nes. Hy probeer toe ‘n klein voëltjie uit ‘n nes trek,  maar sukkel. Vlieg weg en kom kort-kort terug om die voeltjie uit te trek, maar bly sukkel.

Elke keer as ek hoor die voëls raas dan sit hy daar. Die dooie voël hang so by nessie uit maar die valkie kry hom nie uit. Die Dwergvalkies is regtig ‘n baie klein valkie.

Vriende van ons het vandag ook ‘n onvergeetlike “kill” ervaar by m’Bari, so 60 km wes van Okaukuejo, op pad Olifantsrus toe. Twee leeus wat ‘n gemsbok plat trek. Twee gemsbokke het baklei en die leeuwyfie het haar kans waargeneem. Die mannetjie het kom help en hul twee het die gemsbok plat getrek.

 

 

[14 September] OLIFANTSRUS

Ons eerste stop van Okaukuejo na Olifantarus was m’Bari watergat, dis waar vriende Woensdag die “kill” van die gemsbok gesien het.

Ons het skaars gestop toe kom drie leeus ewe rustig daar aangestap. Een wyfie en twee groot maanhare. Hul drink water en gaan lê in die skadu.

Dis regtig ‘n fantastiese watergat met massas diere van alle spesies, springbokke, blouwildebeeste, gemsbokke, hartebeeste, koedoes, vlakvarke en toe daag die olifante op. Die maanhare het nie gesien die olifante kom van agter af nie en het geskrik en druipstert die bosse in laat spaander.

 

 

Aasvoëls is regtig nie vir my mooi nie (hul is mos deel van die “Ugly 5”) maar vandag die mooiste gesig ervaar. Uit die deinserige stof,  kom land daar ‘n  Swartaasvoël. Dit lyk of hy ‘n wit broek aan het, met ‘n swart toga. Hy met sy groot vlerke oop en verjaag die kraaie om daar ietsie te ete kry.

Ons kry ook ons eerste lifer, die Gevlekte sandpatrys. Vir dié wat nie die term ken nie, ‘n lifer verwys na ‘n voël(spesie) wanneer dit di eerste keer gesien en positief identifiseer is deur ‘n voëlkyker.

Olifantsrus is ‘n klein ruskamp maar baie oulik. Aanvanklik was ons alleen, maar die middag is nog ‘n kampplek beset.

Hier is wel MET (Ministry of Environment & Tourism – huidige Natuurbewaring) wat in die tente bly. Hier is ook ‘n helikopter waarmee hul elke dag vir ‘n week lank wild tel. Die personeel is baie vriendelik en behulpsaam.

 

 

Vanoggend  (Saterdag) is ons vroeg hier weg en was skaars op die pad, toe ons twee leeus langs die pad teëkom. Een van MET se mense sê toe by die Tobieroen watergat is ook leeus. Op pad daarheen het ons ‘n mooi trop elande gekry,  hulle is net in die weste van Etosha. Daar het ons toe ses leeus gekry. Ons het ‘n paar ure daar gesit en toe verskuif na Okawao watergat waar ook klomp diere was, onder andere ‘n gesonde lewenslustige swart renoster volledig met sy horings. Etosha se veld is oral pragtig.

Saterdagnag het die leeus heelnag tot ses uur die oggend gebrul van alle kante af. Die ou maanhare dui hul gebied so aan.

Die volgende dag het ons in die “hide” gaan sit en ‘n fantastiese ervaring gehad. Die “hide” se onderste vlak het eenrigting glas en die vloer is gesink, met die water teenaan die glas. Bo net gewone openinge.

Twee olifantbulle het kom water drink en die een het tot byna teen die glas kom staan en water drink en hom nat gespuit… dit voel of jy aan hom kan vat.

 

 

[15 September] KUNENE RIVER LODGE

Na elf wonderlike dae in Etosha het ons afgesluit met ons tradisionele kamp-hamburgers: ons eie roosterkoek en eie patties gemaak. Geen beter hamburger as dit, veral as dit gepaardgaan met ‘n vuurtjie van regte kampvuurhout.

Nou oppad Kunene toe, meer as 200 km om te ry. Pragtige oop teerpad met mopanies weerskante van die pad.

Ons sit op die walle van die Kunenerivier. Fantastiese kampplek. Mooi uitsig oor die rivier, groen gras en heelwat warmer hier as in Etosha. Ons kamp onder een van ‘n laning wildevybome. Het al ‘n lifer gekry vanoggend, die  Rooistertmôrelyster / Rufous-tailed Palm-thrush.

Vanmiddag kamp pizza gemaak, net om onsself welkom te heet hier en om ons lifer te vier. Hier is natuurlik ook blou ape, maar hul pla nie. Snaakste vir my is hul staan al 4am op en begin baljaar in die bome en as dit donker is saans bly hul ook aan die gang. Hierdie ape is soos Dirkie sin by Mission Rocks St Lucia, hulle gedra hulle.

 

[17 September] KUNENE RIVER LODGE

What a day, what a wonderful birding day! Ek is so opgewonde ek begin skoon Engels praat. Ons het vandag verskeie lifers gekry, ons kan dit net nie glo nie. Te goed om waar te wees.

Ons het ‘n voëluitstappie gereël met Peter Morgan, eienaar van die lodge. In 2012 het Wessel Swanepoel, terwyl hy besig was met plant navorsing, ‘n vreemde voël opgemerk. Dit is geīdentifiseer as Angola Cave chat / Angola Janfrederik. Hulle kom net in die Zebraberge (Kaokoland) voor en ook in Angola.

Dit is ver hiervandaan. Ons het 5am, twee ure voor sonop, by die lodge begin ry. Dis regtig ‘n ongelooflike paadjie, niemand sal daar uitkom as jy nie die wêreld ken nie. Dis erg 4×4 deur dongas, rotse, droë sandriviere en ook die Ondotorivier. Daar is geen aanwysings, net ‘n tweespoorpaadjie wat deur duisende mopanies vleg.

Hoe Peter weet waar om te ry weet ek nie. En moenie dink hy gebruik ‘n GPS nie. Die hele uitstappie heen en weer was 8 ure lank. Nou ja na hierdie woeste pad stop ons by die voet van die ruwe Zebraberge.

Die berg moes uitgeklim word om by die Cave chat uit te kom. Daar is regtig niks grond nie, net klippe en rotse. Ons het elkeen ‘n wandelstok gekry, maar glo my dis nie ‘n wandelpaadjie nie, maar ‘n klim paadjie.

Peter het die chat saggies en ver gehoor, en dit het die rigting bepaal. Ons het begin klim net toe die son sy kop uitsteek, na ‘n uur se klim, gaan sit ons elk op sy eie rots en wag. Peter het ook gister gesê ons moet klere aantrek wat by omgewing aanpas. Die Cave chat bly en beweeg tussen rotse en is baie sku. Na ‘n driekwart uur het ek besluit daardie voël is nie lus vir ons nie.

Intussen merk ons ‘n Witkruisarend op. Hy kom oral  in Suider Afrika voor maar het ons nog altyd ontglip. Ons het hom by Golden Gate destyds opgemerk maar nie afgemerk omdat ons onseker was. Ons eerste lifer vir die dag.

 

 

En wraggies skielik is die Cave chat daar. Hy is onder ‘n bos in en ons bokant hom op die rotse. Soos hy beweeg volg ons hom, maar dis moeilik en ons moet sag beweeg en ook mooi kyk vir val.  Uiteindelik kon Marius ‘n paar  pragtige fotos neem en ek kon hom bekyk.

Ek is mal oor die Janfrederik familie en is nou so bly dat hierdie ook ‘n Janfrederik is. Dit maak hom meer spesiaal. Ons was uit ons nate van blydskap.

Ons is een van ‘n paar honderd “birders” wat hom al ooit kon sien. Glo my dit was een van die moeilkstes om te kry. Peter het genoem dat hy skat daar is  ‘n paar honderd, indien nie ‘n duisend van die Angola Janfrederikke in die Zebraberge.

Na die opgewondenheid moes ons weer af, met net klip en rotse onder ons. Die uitsig van bo af was pragtig en ons kon mooi fotos van daar af neem. Onder het Peter vir ons heerlike ontbyt voorgesit onder die mopanies. Met vol magies moes ons die volgende lifer gaan soek: Die Cinderella waxbill/Angolasysie.

Ons het so tien kilometers teruggery tot by ‘n droë rivier waar daar die kleinste poeletjie syferwater is. Die gaatjie is nie groter as 30 cm nie. Mens kan nie glo dat daar nog ‘n gaatjie water was hierdie tyd van die jaar nie. Dis hier waar ons vir daardie kleinste sysie moet soek.

En was dit ‘n gesoek! Ons het hom gekry, maar kan nie naby hom kom nie dan vlieg hy.

 

 

Ander voëltjies by daardie ongelooflike gaatjie water was die swartwangsysie, koringvoël, die koningblousysie, blousysie, die gewone melba – almal is klein saadetertjies.

So ons derde lifer is gevind. So met die gesoek kry ons die Klein heuningwyser, ons vierde lifer vir die dag, wat ‘n bonus.

Ons was eers na middag ete terug by die kamp. Moeg en warm, maar gelukkig. “Peter, thank you for a great Birding trip, one of our best!”

Hier is besondere voëls by die Kunene, soos die Moeraswaterfiskaal wat die mooiste duet kan sing, die witrug nagreier, die watertrapper, kaalwang katlagter en soveel meer.

Peter vertel ‘n storie oor die kaalwang katlagters, hy sê hul sit so vier tot ses in ‘n groepie op ‘n tak en praat aanmekaar (ek sê hul skinder). Skielik spring een af en tel ‘n blaar op en almal is aan die praat. Onthou, hulle is insekvreters!

Dan sit hy ewe selfvoldaan daar met sy blaar en ander is vreeslik nuuskierig en praat oor die kosbare blaar. Dan gee hy die blaar aan vir die een langs hom en almal is aan die praat. Die een wat die blaar het is so bang daar gebeur iets met die kosbare blaar en wil net daarvan ontslae raak en gee dit aan vir die volgende een. So stuur hulle die blaar aan tot die blaar by die laaste een is.

Die laaste een raak so op sy senuwees oor hierdie blaar dat hy hom laat val. En dan word daar eers gepraat oor hierdie kosbare blaar wat geval het. So het hul ook hul eie vermaak en speletjies.

Om die Kunene af te sluit gaan ons met sonsondergang op ‘n bootrit saam met Peter.

Dit is harde droë wêreld met die Kunenerivier wat sy pad vind deur die berge.

 

 

[19 September] EPUPA

Ons is nou by Epupa watervalle. Gistermiddag so een uur hier gestop. Omarunga, is ‘n wonderlike kamp, Gondwana bly maar ‘n wenner. Die uitsig op die rivier met duisende makalanie palms is ongelooflik. Epupavalle, pragtig!

Gister se pad langs die rivier, was met plekke ietwat rof maar oor die algemeen goed. Daar was plekke wat ek gewonder het of die Fortuner vir Stronkie (Imagine 4×4) gaan saam sleep. Die twee is soos karperde saam oor rotsriwwe en dik riviersand.  Ons het maar stadig gery twee keer gestop, vir tee en beskuit.

 

 

Dit is vandag  pensioendag en dan ook ‘n markdag, Epupa Saterdag mark. ‘n Vreeslike bedrywigheid. Allerhande kos en klere word verkoop. Die bok word hier by die mark onder die boom geslag en dan word die vleis net daar verkoop.

Ek wonder hoe lank Ovahimba’s se tradisionele drag nog gaan bly. Jong mense begin al meer westers aantrek, wat jammer is.

Ons is verstom oor hoe skoon dit hier is. Hier is nêrens papiere of enige gemors wat rond lê nie.

Ons het gister skaars kamp opgeslaan toe kry ons die Kaalwangvalk hier in ‘n boom by die rivier. Die Bloupens Papegaai (Rüppell”s Parrot) vreet hom lekker dik aan die ryp wilde vye, en vertoon so mooi in die palms. Ons kon die Donkergrys Valk net drie keer vinnig sien oor die Kunene, en ons het die Olyfbyevreter gesien. Hulle is baie skaars en kon hulle net in vlug sien met die lang stert wat ‘n dubbel profiel het.

 

 

[23 September] PALMWAG

Ons het gister omtrent heeldag gery aan 400 km. Dit klink erg, maar die wat die paaie ken, sal weet hoekom. Alles is grondpad… en glo my, goeie grondpaaie. Sowat van klippe en stof het ek in my lewe nie gesien nie.

Ons het nog nooit soveel driffies teëgekom soos van Epupa tot hier by Palmwag. Kort kort moet jy 30km/uur ry vir die driffies.

Gelukkig het ons geen bekommernisse gehad nie want ons klipskerm-flappe aan die Fortuner werk uitstekend. Ons is ook bly, tot dusver geen band probleme gehad nie.

 

 

In Okongwati en Opuwa is die beste belegging om te maak, ‘n bande besigheid. Elke tweede besigheidjie is  “Tyre Repair Investments”. Ons moes diesel op Opuwo ingooi en paar goedjies koop, maar groot probleem by die diensstasie: Geen diesel nie.

Die pompjoggie sê daar was een of ander “hero” die naweek en vreeslik baie mense, en nou is die diesel gedaan. Gelukkig was daar nog ‘n afgeleefde diensstasie waar ons toe geholpe is.

Daarna verder grondpad en klippe maar tog baie mooi. Ons was seker so vier uur by Palmwag en was verras met die mooi lodge.

 

 

Grootse verrassing is dat ‘n Graad 1-leerling van my hier die Area Tegniese bestuurder vir Gondwana is. Palmwag, Damara Mopanie lodge en Omarunga by Epupa val onder sy bestuur. Ek het geweet Hend van Blerk is by Gondwana, maar by Epupa gehoor hy is nou hier by Palmwag. Was so lekker om hom te sien en het hy ons nou “getreat”, eers ‘n lekker koue bier toe sjampanje en snacks en boonop is daar toe ‘n trop van ses olifante om ons te verwelkom. Dit was baie spesiaal.

Ons het gaan kamp opslaan. Ons is bewus gemaak dat kamp Nr 5 net langs ons die deurstap plek van Jimbo is. Jimbo is ‘n olifantbul van plus minus 50 jaar. Hy kom elke aand by die fontein water drink. Gisteraand hom so mooi beleef. Mens staan ‘n paar meter van hom. Glad nie aggressief nie. Vanoggend het ons gaan stap en oral by die lodge het hy sy merk gelaat.

 

 

By Palmwag het ons die interessantste voëlgids ontmoet. Erwin sê as hy van die werk afkom sal hy met ons gaan stap dan kyk ons of ons die korhane kan sien.

Ons is toe nie lus om na 4pm in die hitte en klippe rond te stap (seker bietjie lui), maar Erwin aanvaar geen verskoning, hy sê hy is besig om vir Hendrik op te lei as gids en ons moet saamstap.

By die lodge is daar fonteine waar woestyn olifante laat middag gaan water drink. Toe ons gaan stap, is daar 11 olifante met paar kleintjies wat besig was om water te drink.

Erwin vertel hy vat net twee mense op ‘n slag as hy alleen is. Sy gaste moet net maak soos hy sê. As hul pad wel met die van ‘n olifant kruis, moet gaste agter hom doodstil staan, hy staan ook stil en kyk net vir die olifant. Hy hou dan elke gas styf aan hul arms vas, want anders hardloop hulle.

Erwin vertel toe ook waar Palmwag sy naam kry. Daardie gebied was baie jare gelede boerdery gebied. Hy vertel dat die mense dan by die boer wil kom vleis koop, dan sê die boer gaan sit by die palm en wag.

 

 

[24 September] SWAKOPMUND

Na die heerlikste drie weke in die natuur is ons veilig by die huis!

Weereens het die voëls ons ‘n belewenis van ‘n leeftyd gegee.  Elke oomblik in die natuur is spesiaal, van die dood gewone kraaie tot die uitdaging om die Angola Janfrederik te kon sien.

ADMIN

Post your comment