Ons kamp gewoonlik by Nunda River Lodge want dit is ‘n pragtige lodge met kampplekke wat baie goed onderhou word.
Die kampplekke het lekker skadu onder bome, en mooi gras (behalwe die kampplekke wat teenaan die Kavangorivier is – daar sukkel die gras en net natuurlike rietgras aard daar, want wanneer die riviervlak hoog raak, is die kampplekke onder water).
Ons verkies die kampe teenaan die rivier, want dan ervaar ons die seekoeie met hul ô-ô-ô geluide in die vroegaand en gedurende die nag soveel meer.
Ons het op hierdie keer liewers besluit om op kampplek 6 met mooi gras te kamp, want dit het goed gereën.
Die lodge het ‘n pragtige dek met verskeie vlakke en areas waar jy die Kavango kan ervaar. Die gemeenskaplike toilette is so pragtig en uniek gebou: ‘n natuurlike grasdak wat bo-oor die fasiliteite staan, en die pragtigste binnetuin, met plante wat die toilette van die storte skei.
Die kamers van die lodge is ver van mekaar af, al langs die rivier en naby die water; en soos ek gesê het ervaar jy die rivierlewe eerstehands.
Ek stap een oggend deur die tuin naby die swembad, en my aandag word getrek deur ‘n “commotion” – Rooibek Kakelaars (Green Wood-Hoopoe), seker ses tot agt van hulle, wat besig is om vinkneste te aas en roof. Hulle sit bo-op en hang aan die neste soos hulle besig is om te aas.
So leer mens elke dag iets nuuts in die natuur. Ons kon nooit dink dat hierdie pragtige voëls so wreed kan optree nie. Ons hou nou sommer baie minder van hulle.
Ons het ‘n middag bootrit, afhangend van die reën, bespreek met Bassi as gids. Die volgende oggend sou ons ook per boot op die Kavango gaan vir die jaarlikse voëltelling.
Die ritte is saam met plaaslike voëlkenners. Cameron neem leiding, hy is mede-eienaar van Nunda en hulle bote word gebruik. Ons het omtrent die heerlikste weer, maar ook vol verrassings. Die weer wissel omtrent elke 10 minute.
Ons het omtrent ‘n dag vol seekoei-avonture gehad. Gedurende die oggend het ek by die laaste chalet, stroom-op, vyf seekoeie dopgehou. Stroom-op is hier ook suid, nie noord nie. By Nunda maak die Okavango mens lekker rigting beduiweld met al sy draaie. Noord word suid en oos word wes, en ek moet heeltyd dink waar die rigting is.
Dit was vyf groot seekoeie en een kleintjie. Hulle het behoorlik in die water baljaar.
Namiddag is ons saam met Bassi per boot uit op die groot Kavango. Wat ‘n belewenis! Bassi staan bekend as Kavango /Zambezi se beste gids. Hy is ‘n spesialis in voëls en ook uitstekend met hantering van seekoeie.
Twee jaar gelede het ons die Rooikeel Reier (Slaty Egret) saam met Bassi gekry en hierdie keer weer. Ons het ook massas Oopbek Ooievaars, Nagreiers, ander reiers en nog baie meer spesies gesien.
Hier is nogal baie seekoeie. Op een stadium kom ons op ‘n ou seekoei af wat buite die water staan, met ‘n tand wat skeef uit sy bek staan. Bassi sê dis gewoonlik ‘n ou seekoei wat se tande begin uitval of afbreek. Hy skat die een so 40 jaar oud.
Ons het ander seekoeie ook buite die water gekry, maar sodra hul die boot gewaar hardloop hul dat dit bars met daai logge lywe. Nooit gedink hul kan so vinnig hardloop nie!
Ek wil natuurlik baie graag ‘n foto neem van ‘n seekoei met ‘n oop bek, en Bassi verseker my hy sal sorg vir een. Hy sê seekoeie moet jou reuk kry én jou sien, so hy gaan bokant die wind, en maneuver dan die boot in trurat en “whirl” die skroef van die boot om lekker skuim en branders te maak. As die seekoeie jou ruik, dan maak hulle hul bekke oop. Dis ‘n teken van aggressie.
Hy het dit verskeie kere reg gekry. Dit is net moeilik om te weet watter een gaan sy bek oopmaak, en om dan betyds ‘n foto te kry.
Mark Paxton, ‘n bekende voëlgids in die Kavango, het verskeie jare gelede reeds vir Bassi in sy Sasol-voëlboek geskryf as “best guide in wetlands”.
Bassi verbreed ook sy kennis oor alle diere, plante en eintlik alles in die natuur. Sy kennis oor plaaslike voëls knap hy gedurig op deur leeswerk, in die omgewing rond te beweeg en te ondersoek waar spesifieke voëls voorkom. Hy het ‘n passie vir sy werk en is maar net 38 jaar oud.
Cameron het ons ook genooi om saam te gaan per boot saam met Bassi en Timo, albei gidse, om die ses-maandelikse voëltelling van Popa Valle te doen.
Dit was ‘n nuwe ondervinding vir ons.
Ons het net watervoëls (wetland) getel. Elke voëlspesie en die aantal, moet deur twee persone bevestig word. Dit was moeilik om die voëls te sien, omrede die rivier reeds hoog is, asook die gras lank en hul skuil baie in die gras.
Die tellings word gewoonlik begin Desember en Julie gedoen, dan is dit meer oop en droër en is die voëls makliker waarneembaar. Dié jaar kon hulle dit nie op gewone tye doen nie as gevolg van Corona.
Die presiese roete wat elke keer gevolg word is van Popa Valle tot ongeveer 20 km stroomaf aan albei oewers, asook rondom die eilande.
Ons moes ook by plekke aan wal gaan om in die vleilande voëls te soek.
Die spesie met die hoogste telling was Oopbekooievaars wat hoog in die lugstrome gesweef het, en in die wolke weg geraak het. Ons het saam gestem dat die een groep 75 was.
Die Oopbekooievaars het ‘n baie interessante bek – afgesien daarvan dat jy onmiddelik sien dit is ‘n oop bek, gebruik hy sy snawel as werktuig om slakke en mossels onder die water uit te haal en dan die doppe met die kragtige snawel oop te breek.
Hierdie Nunda area teenaan die Kavango met sy eilande asook vleilande is vir voëlkykers en natuurliefhebbers ‘n plek wat jy moet besoek. In die oggend skrik jy wakker, jy word nie wakker nie, van die voëlgekwetter. Wat kan beter wees?
Dit is iets wat ons baie mis as ons terug is by die huis… die voëlgesang waarmee mens elke oggend hier wakker word.