Click to Subscribe
Register | Log in

Ek het ‘n vliegtuig omskep in ‘n woonwa

10528
VIEWS

Vir baie jare het ek gedroom om ‘n vliegtuig in ‘n woonwa te omskep, maar ek kon nooit die regte romp vind om dit te doen nie… tot ek eendag ‘n Cessna 401B romp raakgeloop het.

Dit het kop gestamp met ‘n kameelperd op die aanloopbaan tydens landing.

Ek het dit onmiddelik gekoop en dit met ‘n bootsleepwa gaan haal. Dit het perfek op die sleepwa gepas en ek het sommer besluit om dit daarop te los.

Nadat ek dit behoorlik gemonteer het, het ek begin met die werk.

Dit was baie harde werk, want die romp was in ‘n haglike toestand.

Heel eerste het ek die vloer ingesit nadat ek al die kabels en pypies en derglike dinge uitgehaal het. En natuurlik ook die rot neste.

Ek het alle onnodige onderdele uitgehaal om die gewig so lig as moontlik te hou. Daar was ‘n hele aantal van die oorspronklike vloer plate binne en ek kon dit weer monteer en net so hier en daar plate bygevoeg.

Daarna het ek die romp toegebou. Daar was heelwat openings soos die voorste ruit en die voorste kant ruite. Ek het besluit om alles met sinkplaat oor te trek en sodoende dit ook waterdig te maak.

Waarna ek die binnekant met hout uitgelê en dit met mat oorgetrek het nadat ek die dubbelbed ingebou het.

Ook die vloer het ek met mat uitgelê en natuurlik ook die stert gedeelte vir die pakplek. Daarna het ek die kaste ingebou.

Al wat toe oorgebly het was om die buitekant reg te kry vir die verfwerk. Ek het dit met 2K oor gespuitverf en ook die strepe op gespuitverf met 2K.

Daarna het ek die afdakkie laat maak en dit permanent op die romp gemonteer sodat dit kan oprol en afrol wanneer jy dit wil opslaan.

Ek het behoorlik dag en nag geswoeg vir 20 dae, en op die 21ste dag het ons daarmee gaan kamp opslaan by Hartbeespoortdam.

Met ander woorde vanaf dag 1 wat ek begin werk het aan die projek, het dit my net 20 dae geneem om te voltooi.

My vrou was behoorlik verbaas toe ek vir haar op die aand van dag 20 sê ons moet pak, ons gaan môre oggend kamp. Dit was onbeplan en ons sou net vir een nag gaan staan het vir ‘n inwy en toets.

Dit het toe op ‘n sewe dae kamp uitgeloop, want dit was sommer baie lekker.

Dit sleep baie gemaklik en dit is ook baie lig. Die “woonwa” het ‘n klein yskassie, hangkas, kas met rakke vir opvou klere, kas met rakke vir kombuisware en ‘n vol dubbelbed.

Daar was nie spasie om die kaste deure aan te sit nie en ek het besluit om net gordyne voor te hang. Daar is natuurlik ook plek vir ‘n troon (Porta potti) binne.

Die hele stert gedeelte is pakplek en is groot genoeg om baie toerusting in te stoor.

Ek het binne 220V ligte ingesit en ook 12V ligte. Ook buite ligte.

Die oorspronklike vliegtuig deur word nog gebruik (asook die oorspronklike nommer van die vliegtuig ZS-NCB).

Ek het ook die rooi, groen en wit navigasieliggies gemonteer en dit lyk baie mooi in die aand.

Daar is net een probleem: Almal wil kyk na my Cessna-woonwa, en daar is omtrent geen tyd vir ontspanning nie. Self vliegtuie wat ver weg vlieg kom maak ‘n draai om te kyk wat soek die vliegtuig langs die dam.

Maar dit was ‘n lekker projek, en ek het dit baie geniet om dit te bou.

Sal ek dit weer doen? Ja, maar hierdie keer sal ek almal se raad aanneem om eers ‘n psigiater te gaan sien.

Francois Huysamen

Join the Conversation

We'd love to hear your thoughts! Share your insights, questions, and experiences with us and join the conversation. Your feedback helps us create better content and foster a community of passionate caravanners. Post your comment below and be part of the discussion!