Subscribe
Register | Log in

Die manjifieke Mahango-wildtuin

19031
VIEWS

Met ons onlangse besoek aan die Mahango-wildtuin het ons baie diere gesien – meestal buffels, rooibokke, koedoes en vlakvarke, almal ook met kleintjies.

Die park is lower groen en ons het nog nooit die veld so mooi gesien nie.

Die Mahango-wildtuin is ‘n beskermde gebied van Namibië wat binne die Bwabwata Nasionale Park is. Die vloedvlaktes van die Kavango rivier vorm ‘n groot deel van die wildtuin en dit is ook naby die bekende Popa-waterval.

Dit is in 1986 gevestig en beslaan ‘n oppervlakte van 24 462 hektaar. Met meer as 400 voëlspesies, het BirdLife International, dit as ‘n belangrike voëlgebied aangewys.

Die Sasol Birdfinder boek beskryf Mahango-wildtuin as “the most magnificent” plek vir voëlkyk. Die verskeidenheid voëlspesies wat hier voorkom, is omdat dit sowel vleiland- en droëveld-voëlsoorte insluit.

Die wildtuin het minstens drie uiteenlopende habitate vir voëls soos vleiland / vloedvlakte, bos gebiede (woodlands) sowel as savana.

Die diere wat in Mahango wildtuin voorkom, afgesien van die normale leeus, olifante, buffels, ensovoorts, is dit ook bekend vir die rare diersoorte soos Rooi Lechwe’s, Sitatunga’s, Bastergemsbok (Roan), Swartwitpens (Sable) asook Chobe Bosbokkie met sy onderskeidende helderder kleure, tipies van die noordelike populasies.

Ons het met hierdie trip Rooi Lechwe’s en Bosbokkies gesien, maar nie die ander nie. Ek dink met die reën seisoen is die ander bokke dieper in die veld.

Dit is altyd so lekker om die Bastergemsbokke en Swartwitpense in die ongerepte natuur te sien, want daar word nie met hulle kommersieel geboer nie en hulle is ook redelik beskerm teen jagters.

Die Kavango moerasse begin vanaf die Mahango en staan ​​bekend as die “panhandle”-streek. Die Kavango rivier vloei verder in Botswana in en vorm daar die Kavango delta. Die jaarlikse reënval is tussen 550 en 600mm.

‘n Groot hartseer wat dié wildtuin getref het, is ‘n ou bekende baken wat neergestort het: die massiewe ou kremetartboom.

Die weerlig het hom klaarblyklik ‘n paar maande gelede getref. ‘n Seder het geval. Almal wat Mahango wildtuin al besoek het, weet van die ou reus.

Dis ‘n tragedie, en ons sal hom altyd onthou.

Kremetartbome word maklik 1 000 tot 3 000 jaar oud. ‘n Interessante stukkie wetenskap wat ek baie insiggewend vind en waaroor ek in die verlede gewonder het hoe dit werk, is om die ouderdomme van dinge te bepaal. Die ouderdom van fossiele word byvoorbeeld met “carbon dating” redelik akkuraat bepaal. Die ouderdomme van lewende organismes, opgrawings van ou beskawings, enige gesteentes of hemelliggame soos die aarde word op dieselfde wyse bepaal maar met die hulp van ander radioaktiewe isotope van elemente soos Radium, Uraan, ens.

Die wetenskap help ons baie om ons omgewing beter te verstaan, alhoewel navorsing die heeltyd gedoen word en ons kennis daardeur heeltyd aangepas word – ons huidige kennis is dus nie die alfa en omega nie, maar sekerlik die mees betroubaarste tot ons beskikking.

In ons Sasol Birdfinder wat inligting gee van sekere skaars voëls, sê ook waar hulle in die area voorkom. Dit verwys na oorvloeikanale wat water onder die pad deurlaat na ‘n vlei gebied weg van die rivier.

Mahango-wildtuin word in hierdie boek sterk aanbeveel met sy hoë getal besondere en skaars voëls. Die boek dui aan dat dié vlei 4,5 km van ‘n sekere afdraai is. So stop ons by hierdie vlei gebied, waar daar ‘n “Geen Toegang”-bordjie by die ingang is.

Die vlei is sowat 300m vanaf die pad. Die Groot 5, behalwe renosters, kom in die Mahango-wildtuin voor.

Mahango is een van die min wildtuine waar jy op eie risiko uit jou voertuig mag klim. Ek klim toe uit, gewapen met kamera en verkyker. Magda, bly by die kar en bespied die wêreld vir enige gevaar.

So stap ek nader en nader aan die vlei gebied. Ek het die wêreld goed bekyk en die rooibokke in die omgewing was baie rustig en ek kon aflei daar is nie gevare van leeus of ander roofdiere nie. So, ek was darem baie versigtig.

Intussen stop daar aanmekaar karre by Magda om te hoor of daar ‘n probleem is. Sy sê nee, haar man het net ‘n “draai” gaan loop.

Toe ek by die vlei kom sien ek verskeie ruitervoëls en ander waadvoëls, Nonnetjie Eende (White-faced Duck), maar ver aan die oorkant tussen en agter die watergrasse sit ‘n voël wat baie suspisieus voorkom. Dit is toe sowaar die Dubbel Snip (Great Snipe)!

Ek kon darem ‘n swakkerige foto kry. Ek het sy ID later in die voëlboeke bevestig, hoofsaaklik aan sy gedrag. Hy het seker ‘n bietjie geskrik en vlieg toe reguit op en gaan sit op ‘n ander plek, steeds aan die oorkant waar ek hom goed kon waarneem met die verkyker.

Met die omruil van verkyker na kamera, verdwyn hy toe in die lang gras en ‘n goeie foto is daarmee heen.

Snip spesies het baie lang snawels. Ek kon met my swakkerige foto bevestig dat dié een se snawel wel minder lank as die Afrikaanse Snip is, en ook nie geel is soos die Goud Snip nie.

Ek het rondom die vlei probeer stap, maar daar is ‘n deel waar die een vlei verbind is met die volgende met lekker turf modder waarin vlei grasse staan. Ek het nog so versigtig in die turf probeer stap, toe sak my Croc weg en my voet kom alleen saam. Ek kon ‘n ent verder my skoene en voete gewas kry by ‘n poeletjie water.

Na sowat ‘n driekwart uur was ek terug by die kar, waar Magda wag, en ek hoog in my skik met nog ‘n “lifer” op ons boeke. Dit was die laaste van die Snip spesies wat ons so gesoek het. Daar is drie in Suider Afrika en hierdie een was ‘n baie moeilike kalant vir ons om te kry.

Daar is ongelooflike besondere voëls in Mahango-wildtuin, onder andere het ons ‘n paar keer Lel kraanvoëls gesien, fantasties. Hulle status word aangegee as “nie-algemeen tot skaars standvoël”. Wêreldwyd word hulle beskou as kwesbaar en in Suider Afrika as krities-bedreig.

Met die terugry het ons by die toegangshek gaan vra of hul ons sal toelaat, met ons volgende besoek, om met die kar op die ou tweespoor sandpad tot nader aan die vlei te ry. Hul sou dit oorweeg, en met die volgende besoek aan die wildtuin het hul ons toestemming gegee om tot naby die vlei te ry.

Ons was heeldag in Mahango waar ons baie ure by die vlei deurgebring het om Riethane (Crakes) te soek. Ons soek nog ‘n paar van die Riethaan spesies: Klein-, Gevlekte-, en Gestreepte Riethaan. Hulle is baie sku en tussen die riete, en ons was onsuksesvol om enige van hulle te siene te kry.

Nou ja, na drie weke in die Kavango en Zambezi, ry ons die 800 km tot by Omaruru en dan nog 250 km tot in Swakop.

KAVANGO ZAMBEZI


Die Mahango-wildtuin, Buffalo-wildtuin (Kavangorivier), Mudumu-wildtuin, Susuwe-wildtuin wat die Horse Shoe area insluit, en Nkasa Rupara-wildtuin (Kwandorivier) is almal juwele van wildernisgebiede ter wêreld – dit is nie die grootste wildtuine nie, maar is kompak en bied unieke natuur ervarings.

Die wildtuine is deel van KAZA (Kavango Zambezi) wat in 2011 gevestig is en wildernis gebiede van Angola, Botswana, Namibia, Zambia en Zimbabwe saam voeg. Die diere beweeg vrylik tussen die lande. Dié Namibiese wildtuine is dus sentraal binne KAZA geleë.

Ons besoek die besondere area amper jaarliks, en dié jaar (2021) het ons besluit, dat ons die area in hul groenste groen kleur wil ervaar. Ons gewone besoektyd is laat November en begin Desember, want dan is die meeste somer voël besoekers daar en die temparateur raak ook bietjie meer draagbaar met die wolkies wat begin kop uit steek. Die reën was ons genadig en het ons kamp ervaring net ‘n bietjie ingeperk (dit het meestal in die nagte gereën). Dit het wel 250-300 mm in die drie weke gereën – ons kon dus die groen en reën geniet.

Post your comment